Die Van Riebeeck Vereniging vir die Publikasie van

Suider-Afrikanse Historiese Dokumente

 

Nuusbrief 34, September 2009

 

Nuusflits!!

Gillian Godsell voer binnekort 'n radio-onderhoud met Gerald Groenewald in verband met die VRV. Sommige van u sal Gerald se lesing in Januarie vanjaar by die UK-Somerskool onthou oor volume 36, Trials of Slavery, waarvan hy en Nigel Worden die redakteurs was. Die onderhoud vind plaas op Radio Today, 'n Johannesburgse radiostasie, Dinsdag 22 September om 9 vm. Ek verstaan u kan hom op DSTV stem-kanaal 169 hoor. Skakel gerus in! Ons sê baie dankie vir nuwe lid Ian Clark wat die onderhoud gefasiliteer het.

 

AJV en bekendstelling in Kaapstad van ons 2009 volume

Ons 2009 AJV word gehou in die Komiteekamer, Sentrum vir die Boek, Koningin Victoriastraat 62, Kaapstad, op Donderdag 29 Oktober om 18.00. Parkering is beskikbaar, óf aan die agterkant van die Sentrum (via Perthweg aan die kant van die Sentrum) óf in Koningin Victoriastraat. U word vriendelik uitgenooi om aanwesig te wees. Die notule van die vorige AJV vind u op ons webwerf, www.vanriebeecksociety.co.za. Kopieë sal ook by die jaarvergadering beskikbaar wees. Die jaarvergadering word om 19.00 gevolg deur die bekendstelling van ons 2009 volume, Alan Paton: Selected Letters. Die hoofsprekers is dr David Paton, seun van Alan Paton, en mnr Tony Morphet, 'n ou vriend van Alan Paton. Antwoord asb voor of op 16 October 2009.

 

Kaapse Internasionale Boekefees, Junie 2009

Soos nou alreeds gebruiklik, het ons 'n hoek-stalletjie naby een van die ingange gehad. Elf skone, sterke en brawe vrywilligers het hul hande vol gehad met die verkoop van volumes en die werwing van nuwe lede. Dit was Nigel Amschwand, Tanya Barben, Margaret Kooy, Alan Morris, Susie Newton-King, Cora Ovens, Howard Phillips, Chris Saunders, Arne Schaefer, Sandy Shell, Elizabeth van Heyningen en Piet Westra. Volgende jaar moet ons werklik probeer om twee persone per skof te gebruik gedurende die besige tye. Daar het 24 nuwe lede aangesluit – een van Botswana en een van die VSA. Ons het 67 boeke verkoop, en daar was ook baie belangstelling in 'n proef-eksemplaar van ons herdruk-projek vir 2009 - die 3-volume Engelse vertaling van Jan van Riebeeck se Dagboeke, oorspronklik in 1952 vir die Van Riebeeck Vereniging gepubliseer deur A. A. Balkema.

 

Konferensies

'n Aantal konferensies wat deur lede van ons vereniging bygewoon is, het ons die geleentheid gebied om ons volumes te bemark en nuwe lede te werf. Hierdie konferensies was: 'n Slawe-konferensie in Montreal, Kanada in Mei; die konferensie van die SA Historiese Vereniging in Pretoria in Junie en die internasionale Alan Patan konferensie in die Alan Paton Sentrum in Pietermaritzburg in Julie. Indien u van enige komende konferensies weet waar ons ons volumes kan verkoop en nuwe lede kan werf, laat ons asseblief weet.

 

Nuwe Lede

Michael Bremner van Scottburgh; Shirley Paladin van Rivonia; Sean Shreve van Somerset West; Megan Phillips van Kimberley ('n geskenk-lidmaatskap van haar vader); Herbert A Farrow van Vishoek; Dr Susan Brodrick van Nuweland; Michael Charton van Constantia; Ian Clark van Bergvliet, James Whyle van Rosebank, Johannesburg; Gregory Tarrant van Durban; Barry Brown van Sandton; George Oettle van Aucklandpark; Amy Coetzer van Swakopmund, Namibia; Phoebe Hirsch van Groenpunt; Shireen Scott van Somerset-Wes; Peter Bradfield van Oos-Londen; Gillian Godsell van Craighall Park ('n geskenk-lidmaatskap van Ian Clark); Emile C Coetzee van Waverley, Pretoria; Vibeke Viestad van die Universiteit van Oslo, Noorweë; Rowan Hutchison van Knysna; Michael van Niekerk van Stellenbosch; Paul van Niekerk van Franschhoek en David van Niekerk van Constantia – laasgenoemde drie almal ingeskryf deur hul vader, mnr J F van Niekerk, wat kennelik hiermee 'n nuwe familietradisie wou begin!

Aangesluit by die Kaapse Internasionale Boekefees: Maano Tuwani van Makhado; Mick Taylor van die VSA; Fred Gilissen van Plumstead; Mervyn Rosenberg van Seepunt; Horst Kleinschmidt van St James; Rian Maarten van Tygervallei; Ross Devenish van Barrydale; Ken Hundermark van Plumstead; Nick Kenyon van Wynberg, Kaapstad; Fred de Bruin van Kampsbaai; Kenneth Gainsford van Edgemead; Johannes Smith van Queenstown; Sentail Chinna Veeriah van Gaborone, Botswana; Wayne Wakfer van Bryanston; Heather Scott van Somerset- Wes; John Allen van Plumstead; Sally-Ann Powrie van Bothasig; Grant Hatch van Montagu; David Slingsby van Tokai; Hentie van der Merwe van Observatory; Michael Walker van St James; Harvey Tyson van Hermanus; Lesley Hart van Claremont; Pam Kolbe van Malmesbury.

Aangesluit by die SAHV-konferensie: Prof F A Mouton of Unisa en J N Klee van Florida.

Aangesluit by die Alan Paton Konferensie in Pietermaritzburg: Cedric Sissing van Adams Bookshop, Jewel Koopman, organiseerder van die konferensie, Prof M Z Malaba van UKZN, Mary Burton van Rondebosch, Peter Nel van Pietermaritzburg, Thayalan Reddy van Durban.

Dit bring ons ledetal by 1190 – komaan burgers, skryf jul seuns/dogters/kleinseuns/kleindogters in, dat ons die 1200 kan slaan voor die AJV in Oktober!

 

Hulde aan Doreen Ovendale

Ons innige dank gaan aan Doreen Ovendale vir nog 'n jaar se uitstekende diens aan die Vereniging. Hierdie kantoor sou sonder haar net nie dieselfde wees nie – ons weet nie wat ons sonder haar sou doen nie!

 

Skenkings

Ons hartlike dank aan almal wat in 2009 geld aan die Vereniging geskenk het. U vrygewigheid word hoog op prys gestel.

 

In Memoriam

Mev J D Middelman van Kenilworth; mnr H.J. Hustler van Emerald Hill, mev E B Saunders van Peers Village, Valyland; mnr H F van der Westhuyzen van Noordhoek

 

Bekendstelling van 2009 volume in Pietermaritzburg

Die Alan Paton Sentrum het vanjaar in Pietermaritzburg 'n konferensie gehou ter herdenking van hul 20-jarige bestaan, en die Vereniging het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om ons 90ste volume, Alan Paton: Selected Letters, bekend te stel. Die sprekers by die geleentheid was die redakteur van die volume, professor Peter Alexander van Sydney, en die voorsitter van die VRV, professor Howard Phillips, wat een van die volumes oorhandig het aan Alan Paton se weduwee, mev Anne Paton, en een aan sy seun, dr David Paton (wat ook by die bekenstelling in Kaapstad, op 29 Oktober, teenwoordig sal wees). Die voorsitter en die vise-voorsitter, dr Elizabeth van Heyningen (wat ook by die konferensie was) het die geleentheid gebruik om van ons aktiwiteite te vertel en van ons volumes te verkoop. Die onmiddellike resultate – ses nuwe lede en 19 volumes verkoop – was bevredigend. Verder het kontakte wat by die konferensie gemaak is, gelei tot 'n ooreenkoms dat die Alan Paton Sentrum kopieë van volume 40 in voorraad sal hou om aan die publiek te verkoop, en ook tot 'n uitnodiging aan die VRV om ons boeke ten toon te stel by die Msunduzi Heritage Forum Bookfest in Pietermaritzburg in September.

 

Spesiale aanbod - John X Merriman

John X Merriman was een van Suid-Afrika se briljantste politici. Alhoewel hy eers aan die einde van sy lang politieke loopbaan eerste minister geword het (toe hy in 1910 die Kaapprovinsie in Uniewording gelei het), het hy in baie kabinette gedien, gewoonlik as Tesourier. Hy was ‘n uitstekende spreker, en sy begrotingsredes het toehoorders aan sy lippe laat hang. Hy was ook ‘n skitterende briefskrywer wat met ‘n wye verskeidenheid politieke figure gekorrespondeer het, sowel oor sake van die dag as oor breër kwessies insake regering. Sy politieke oortuigings was nie altyd gewild nie, veral sy pro-Boer-standpunt tydens die Suid-Afrikaanse (Anglo-Boere-) oorlog en sy teenstand teen Rhodes. Die vier volumes van sy korrespondensie, geredigeer deur die hoogstaande historikus, Phyllis Lewsen, bevat van die belangrikste brieweversamelings in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Ons herbied al vier volumes teen die spesiale prys van R200 vir ons lede aan, in die hoop dat meer lesers van hierdie briljante man, wat die Vereniging se eerste Voorsitter was in 1918, sal kennis neem. Ons bied ook, vir lede oud en nuut, François Stephanus Malan se Konvensie-dagboek 1908-1909 in sy eeufeesjaar aan vir R50.

 

 

 

 

 

 

 

Saamgestel deur Cora Ovens & Howard Phillips. Afrikaans deur Chris van der Merwe.

Van Riebeeck-Vereniging, Posbus 15151, VLAEBERG, 8018, Suid-Afrika.

Sentrum vir die Boek, Koningin Victoriastraat 62, KAAPSTAD, 8000, Suid-Afrika.

Tel: +27 (0)21 423-8424 Faks: 086 670 9828

E-pos: vanriebk@mweb.co.za.   Webwerf: www.vanriebeecksociety.co.za